Landini bedank die boer

Uit die daaglikse gespreksagenda, is dit duidelik dat die waarde van die boer dikwels nie na waarde geag word nie. Boere produseer egter nie net voedsel en vesel nie, maar is ook die gom wat die plattelandse samelewing bind terwyl hulle daagliks ’n verskeidenheid uiteenlopende uitdagings die hoof moet bied. “Landbouprodusente is die grootste bate waaroor ons land beskik en maak ’n beduidenisvolle bydra om ’n volhoubare toekoms vir elkeen in die land te skep. Ons kan nie anders as om dankbaar te wees teenoor ons land se produsente nie,” sê Godfried Heydenrych, Besturende Direkteur van ARGO Trekkers SA.

 

“Die veranderlikes in landbou is omvangryk en in die huidige landbouklimaat moet produsente toesien dat hulle die beste waarde op hul beleggings realiseer. Uit ’n meganisasieoogpunt het Argo een doel voor oë, en dit is om gehalteprodukte teen bekostigbare pryse aan die boer te verskaf.”

 

Die Landini REX gespesialiseerde reeks trekkers en die Landini Powerfarm kajuitreeks is met moderne tegnologie toegerus om in elke behoefte van die boer te voorsien. Die trekkers se verbeterde enjins bied doeltreffende werkverrigting, optimale brandstofverbruik en ’n langer enjinlewe wat bydra tot kostebesparings en verhoogde wins. Die trekkers is ook doelgerig ontwerp en vervaardig om onderhoud, diens, herstelwerk, staantyd en bedryfskoste te verminder.

 

Voorbeelde hiervan is die nuwe Landini REXreeks wat beskikbaar is in ’n kajuit- of platformopsie en is uiters geskik vir gespesialiseerde take op die plaas. Maksimum betroubaarheid, gebruikersgerief en maklike onderhoud is ’n wenkombinasie op enige plaas.

 

In hierdie trekkerreeks voldoen die Perkins 1104D 4-silinderengin aan vlak 3 verminderde vrystellingsvereistes, met ’n maksimum kragwerking van 74 tot 110 hp. Die 100-110-120-modelle beskik oor ’n turbo-tussenverkoeler.

 

Die nuwe Landini Powerfarm reeks trekkers spog ook met ’n Perkins 1104D 4.4 L enjin wat wissel van 93 tot 110 hp afhangende van die model. Al drie modelle in die reeks naamlik die 100, 110 en 120 spog met turbo-aanjaers en tussenverkoelers.

 

Wat die Powerfarm reeks laat uitstaan, is die elektries-hidrouliese 4-wielskakeling met ’n stuurhoek van 55°. Die trekker kan bykomend met die Hydralock-remstelsel asook die beperkte glip-ewenaarstelsel (Limited Slip-stelsel) met hidrouliese skakeling toegerus word om 100% rem te verseker.

 

Beide reekse trekkers is beskikbaar met verskeie ratkasopsies. Die Powerfarm reeks word standaard toegerus met ’n hidrouliese koppelaar wat as RPS (Reverse Power Shuttle) bekend staan, en dit is opsioneel in die Rex-reeks beskikbaar. Hierdie koppelaar bring veelsydigheid mee en stel die operateur in staat om van rigting te verander sonder dat dit nodig is om die koppelaarpedaal te gebruik. Dit verlaag ook onderhoudskoste omdat die koppelaarstelsel deurentyd deur die transmissie-olie verkoel en gesmeer word. In die Powerfarm reeks is ’n 12+12-ratkas opsie teen ’n spoed van 40 km/h, of ‘n 16+16-opsie met ’n kruiprat beskikbaar. Nog ratkasopsies is die hidrouliese driegang (H-M-L) kragskakeling wat die ratopsies drievoudig vermeerder en ’n totaal van 36 vorentoe en 12 truratopsies bied.

 

“Produsente moet die beste waarde op hul meganisasiebelegging realiseer en met die toegevoegde waarde wat Landini bied, is hierdie doelwit moontlik,” sê Heydenrych.  “Ons wil graag ons kliënte bedank vir hul ondersteuning. Dit is ’n besondere voorreg  om met die produsente in Suid-Afrika besigheid te doen. Ons is dankbaar teenoor elke boer in die land vir wat hulle vir landbou en die breë samelewing beteken.”

agricoltura di precisione